Een oggend terwyl die flouerige herfsson deur die bome loer en daar nog asemwolke by die petroljoggies se monde uitkom, vertel Hans du Plessis, het hy en sy vrou, Magdaleen, gestop om hul motor se brandstoftenk op te vul.

“Môre, Oom! Môre, Tannie!” groet ʼn swart jong man wat vryf-vryf om sy hande warm te maak.

“Môre, meneer. Kan jy dalk die tenk met petrol volmaak, asseblief?”

Hier in Potchefstroom is dit Afrikaans wat mense saambind, sê Hans, terwyl hy teen die stoel terugsak en sy hande in mekaar vou.

“Daardie ‘oom’ en ‘tannie’ is aanspreekvorme van versoening. En daai soort goed gebeur op grondvlak.

“Gewone mense op straat sit en praat met mekaar Afrikaans. Trouens, ek dink daar is meer mense wat vir hulle daaglikse bestaan afhanklik is van Afrikaans, in vergelyking met van die ander moedertale,” verduidelik Hans soos wat hy links van hom deur die venster na die welige, groen tuin staar.

Dit is hier in sy studeerkamer waar Hans agter sy kiaathouttafel inskuif, skryfmateriaal nadertrek en stories aanmekaar weef, terwyl die voëls wat hy en Magdaleen so liefderyk voer, buite kwetter en baljaar.

Hans het ná sy aftrede besluit om sy volgende beroep te volg en dit is om heeltyds te skryf. “Ek is nou my eie baas en as ek laat kom by die kantoor gaan niemand my afdank nie,” skerts hy.

Om ʼn storie te skep is iets wat Hans al toe-oë doen. Met sy hande steeds in sy skoot gevou en duime wat sirkelbewegings in die lug teken, deel hy iets oor die fynere kuns van storievertelling.

“ʼn Storie moet gemaak word. Jy kan ʼn storie sien en hoor, maar om hom te skryf moet jy elke deel noukeurig soos krale inryg totdat dit ʼn string vorm. ʼn Storie maak ʼn storie en natuurlik die feit dat daar ʼn verhaal is.”

Of Hans nou oor herinneringe uit die verlede praat en of hy, soos in Die opstand van Poppie Nel, skryf oor die sensitiewe onderwerp van ʼn jong meisie wat in ʼn sekte seksueel misbruik word – dit word met ʼn goue draad en sorg aanmekaargeweef.

Hans het oor die jare verskeie noemenswaardige bydraes tot die taalgemeenskap gelewer. Hy is veral bekend vir sy Griekwapsalms, navorsing oor variasietaalkunde in Suid-Afrika en menige skrywer sal hom as voormalige hoof van die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom onthou.

Die ATKV-Skryfskool het uit ʼn verloop van omstandighede ontstaan, onthou Hans. Dit het begin toe Dalene Matthee se Kringe in ʼn bos in 1984 verskyn het en ʼn groot debat oor die beskouing van letterkunde ontlok het. Daar is onder meer gedebatteer oor wat presies gewilde, middelmootprosa is. Hierdie gesprekke het tydens ʼn seminaar plaasgevind wat deur die ATKV gereël is.

Kringe in ʼn bos is uitstekend geskryf, sê Hans, maar of dit die Hertzogprys sou wen het g’n mens geweet nie. “Nou ja, ondanks die gekibbel het twee inisiatiewe uit die seminaar ontstaan: die ATKV se prosaprys (wat nou nog bestaan) en die ATKV se besluit om die Noordwes Universiteit vir ʼn leerstoel in skryfkuns te vra.”

Terloops, Kringe in ʼn bos is wel in 1986 met die eerste ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ’n e-pos na [email protected]