Moenie dat te min selfvertroue in die pad staan van die volgende topverkoper nie. Hierdie tien skryfwenke sal jou help om die storie, in jou kop, op papier vas te vang. 

Daar is niks so frustrerend as om met ’n idee vir ’n storie rond te loop, maar nie te weet hoe om dit met die wêreld te deel nie.  

 Hierdie praktiese wenke sal jou help om jou skryfproses aan die gang te kry.  

  1. Skryf dit net!

Van uitstel, kom afstel … so skryf net jou storie. Dit hoef nie dadelik mooi en perfek te wees nie, maar as dit eers neergepen is, het jy iets om mee te werk.  

 

  1. Lees, lees, lees!

Onthou, elke skrywer was eers ’n leser. Lees help jou om voor te berei vir jou eie boek. So lees soveel as wat jy kan.  

 

  1. Maak notas

As jy ’n oulike idee het vir jou storie, maak ’n nota daarvan sodat jy dit nie later vergeet nie. ’n Notaboek in jou handsak of stemnotas op jou selfoon kan goed hiervoor werk.  

 

  1. Doen jou huiswerk

Lesers gaan weet as jy oor iets praat waarvan jy niks weet nie. As jy dus ’n onbekende onderwerp takel, moet jy genoeg navorsing doen om die gehoor te oortuig van jou saak.  

 

  1. Hou ’n woordeboek byderhand

Alhoewel uitgewers jou boek beslis sal laat redigeer en proeflees as hulle belangstel, skep dit altyd ’n goeie indruk om netjiese en korrekte teks in te dien. Moenie lui wees nie, soek daai woord op waaroor jy onseker is. 

 

  1. Laat die storie jou lei

Dit is goed om ’n idee te hê van wat jou storie moet behels, maar moenie so gefokus wees op die plan dat jy blind is vir ander idees en verwikkelinge wat mag intree nie.  

 

  1. Redigeer eers as jy klaar is

Moenie begin redigeer voor jy klaar is met jou eerste weergawe nie. Die belangrikste is om eers jou storie neer te pen en daarna veranderinge te maak indien nodig.  

 

  1. Wees bewus van jou omgewing

Die mense en gebeure rondom jou kan as inspirasie dien vir die karakters en temas in jou boek. 

 

  1. Skryf elke dag ’n bietjie

Net soos met alles anders, moet jy ook oefen om te skryf om dit perfek te kry. So skryf gereeld, al is dit nie altyd aan jou storie nie. 

 

  1. Skep vir jouself ’n skryfhoekie

’n Rustige spasie, waar jy kreatief kan wees en jou gedagtes vrye teuels kan gee, is nodig wanneer jy aan ’n boek, kortverhaal of radiodrama skryf. Rig dus vir jou ’n lekker werkspasie in vir hierdie doel. 

 

Hou op uitstel en begin nog vandag jou storie skryf. Wie weet, dalk is jy nog die volgende Deon Meyer! 

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ‘n e-pos na [email protected]