Is daar ʼn romantiese held of heldin in jou hart wat net wag om lewe te kry in ʼn boeiende liefdesverhaal?

Dan moet jy inskryf vir die tweede ronde van Skryfnet se Skryf ʼn Liefdesverhaal-kursus wat op 5 September 2022 afskop.

Hierdie praktiese kursus is ontwikkel deur die gesoute boekeredakteur en manuskripontwikkelaar, Madri Victor, en word ook deur haar aangebied.

Madri is ʼn besturende redakteur by Penguin Random House waar sy verantwoordelik is vir Lapa se fiksie. Sy was voorheen as redakteur verantwoordelik vir die liefdesverhale wat by NB-Uitgewers verskyn het en het die eerste chick-lit in Afrikaans gepubliseer.

Hierdie dinamiese vrou bied ook skryfwerkswinkels aan, doen vryskutmanuskripontwikkeling en mentor jong skrywers. Voorheen het sy as aflosdosent Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Kaapstad onderrig.

Sy was boonop die koördineerder van die Woordfees se skrywersfees, het die jaarlikse kortverhaalkompetisie van stapel gestuur en opgetree as samesteller van die Woordfees se kortverhaalbundel.

Haar eie kortverhale is opgeneem in Break the spell/ Spreek die woordKleur van die liefde en Die perfekte brander.

Skryf ʼn Liefdesverhaal sal oudergewoonte aanlyn aangebied word oor ʼn tydperk van ses weke. Dit is ʼn praktiese skryfkursus wat fokus op die belangrikste elemente van liefdesverhale.

Deelnemers aan hierdie kursus sal leer hoe om oortuigende karakters te skep en hul drome en motiverings gebruik om hul plot woema te gee en spanning te bou.

Daar word boonop gefokus op die vroulike perspektief en hoe ʼn skrywer in ʼn heldin se lyf kan klim. Die kursus maak deelnemers ook touwys hoe om liefdesverhale vir publikasie voor te lê.

Skryf ʼn Liefdesverhaal skop amptelik op 5 September 2022 met ʼn aanlyn verwelkomingsessie af.

Om jou plek te bespreek, klik hier. Sodra die registrasieproses afgehandel is, sal daar ʼn e-pos met verdere inligting deurgegee word om toegang te kry tot die leerplatform.

Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia. Inskrywings sluit op 31 Augustus 2022. Koste beloop R2100 per persoon.

Skryfnet is ’n projek deur Maroela Media en Akademia.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ’n e-pos na [email protected]