“ʼn Storie moet gemaak word. Jy kan ʼn storie sien en hoor, maar om hom te skryf moet jy elke deel noukeurig soos krale inryg totdat dit ʼn string vorm. ʼn Storie maak ʼn storie en natuurlik die feit dat daar ʼn verhaal is.”  

Só sê die bekroonde Afrikaanse skrywer en oud-akademikus, prof. Hans du Plessis. Dit is ook presies waarmee Skryfnet die afgelope jaar net meer as 100 aspirant-skrywers gehelp het.   

Skryfnet het vroeg in 2021 die lig gesien en met die intrapslag afgeskop met ʼn agt weke kursus, “Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns”, ontwikkel deur prof. Hans. Met die eerste kreatiewe skyfkursus het studente allerhande wenke geleer onder die praktiese leiding van François Bloemhof, gewilde skrywer.  

In die tweede kursus het Elzebet Stubbe, senior redakteur by Penguin Random House, die leisels by François oorgeneem en die rol as fasiliteerder ingeneem. “Ek het baie meer geleer as net ‘inleidende’ werk. Ek is dankbaar vir dié leergeleentheid vanuit my gemakstoel!” sê een van die studente wat die kursus voltooi het. 

Die jonger mark is natuurlik glad nie afgeskeep nie. Skryfnet het ʼn kreatiewe kursus vir skoliere aangebied. Dié opwindende werksessie is deur 19 leerders bygewoon. Christien Neser, gewilde jeugverhaalskrywer, het die groep gelei en vleuels gegee aan hul kreatiwiteit deur die ontwikkeling van karakters en idees.     

ʼn Halfdag aanlyn werksessie om te leer hoe om ʼn mediaverklaring te skryf is ook aangebied. Dié kursus is deur dr. Thalyta Swanepoel, dosent in joernalistiek en mediaskakeling aan die Noordwes-Universiteit, ontwikkel en aangebied. Dit was ʼn praktiese werksessie waaraan die studente aktief kon deelneem.  

Nico Strydom, redakteur van Maroela Media, wat daaglikse oorval word met persverklarings, het ook praktiese raad gegee oor hoe om te voorkom dat ʼn persverklaring in die snippermandjie beland.   

Nuwe kursusse word in 2022 bekendgestel 

Die goeie nuus is dat ons reeds besig is met die ontwikkeling van nuwe kursusse wat volgende jaar deur Skryfnet bekendgestel gaan word.   

Die eerste nuwe kursus is ʼn ses weke aanlyn liefdesverhaal-skryfkursus. Daar word beoog om op Valentynsdag, 14 Februarie, af te skop met dié kursus. Die registrasies sal eersdaags oop wees. 

Al die vorige kursusse gaan ook weer in 2022 aangebied word. As jy dalk enige van die vorige kursusse misgeloop het, sal jy dus weer ʼn kans kry! 

Lees meer

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ‘n e-pos na [email protected]