Skryfnet, ‘n nuwe Afrikaans skryfskool, word op Donderdag, 25 Februarie aanlyn bekend gestel. Bekendes in die bedryf – soos die bekroonde skrywer prof. Hans du Plessis, die joernalis en mediapersoonlikheid Ilse Salzwedel en Maroela Media se uitvoerende hoof, Susan Lombaard – gaan by hierdie geleentheid ‘n glasie klink en met ander paneellede gesels oor die Afrikaanse boek en die toekoms van Afrikaanse skryfwerk.

Skryfnet is ’n projek deur Maroela Media en Akademia wat skrywers in Afrikaans wil begelei om met hul woorde te woeker. Die projek fokus nie net op kreatiewe skryfwerk soos romans, poësie of liriekskryf nie; die Skryfnet-span beplan ook langer en kortkursusse vir skoolleerders en die professionele mark.

Skryfnet se eerste kursus, ‘n inleiding tot kreatiewe skryfwerk, begin reeds op 1 April. In dié agt week lange aanlyn kursus sal deelnemers teen hul eie pas kan werk om die basiese beginsels van kreatiewe skryfwerk onder die knie te kry. Uiteindelik sal hulle kan spog met ‘n afgeronde kortverhaal en ‘n sertifikaat van Akademia. Die kursus is ontwikkel deur Du Plessis en word aangebied deur die geliefde skrywer en akademikus dr. Jeanette Ferreira. Inskrywings vir hierdie kurssus sluit einde Maart en belangstellendes wat voor 15 Maart registreer kry afslag.

Nog ʼn stukkie goeie nuus is dat ʼn gebaretaaltolk by die bekendstellingsgeleentheid beskikbaar sal wees. Ons inleidende kursus sal ook in gebaretaal beskikbaar wees om die videosessies toeganglik te maak. Dit is ʼn proeflopie om vas te stel of ons daardeur die gehoorgestremde gemeenskap ook by die kursus kan betrek.

‘n Een-dag-werkswinkel in die skryf van redenaarstoesprake vir hoërskoolleerders word ook in April beplan, en in Mei bied Skryfnet ’n kort- aanlyn kursus aan in die skryf van mediaverklarings. Die Skryfnet-span beplan ook reeds aan ander kursusse wat later in die jaar aangebied sal word.

Die amptelike bekendstelling word regstreeks uitgesaai vanuit Forum Ateljees se studio in Pretoria en belangstellendes kan dit volg op Skryfnet, Maroela Media of Akademia se Facebook-blaaie.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ‘n e-pos na [email protected]