“Ek het baie meer geleer as net ‘inleidende’ werk. Ek is dankbaar vir dié leergeleentheid vanuit my gemakstoel!” Só sê een van die studente wat die kursus, Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns, vroeër deur Skryfnet gedoen het.

Indien jy dus dié kursus vroeër vanjaar misgeloop het, het jy nou weer die geleentheid om aan daardie storie waarmee jy in jou kop rondloop op papier gestalte te gee.

Dié projek, wat gesamentlik deur Maroela Media en Akademia aangepak word, het ten doel om jou te help om jou woorde te slyp – of dit nou ʼn storie, ʼn mediaverklaring, ʼn toespraak of ʼn biografie is wat jy wil neerpen.

Die agt weke lange aanlyn kursus is ontwikkel deur die bekroonde Afrikaanse skrywer prof. Hans du Plessis. Praktiese leiding aan kursusgangers word gefasiliteer deur Elzebet Stubbe. Stubbe beskik oor ʼn honneursgraad in Kreatiewe Skryfkuns en ʼn meestersgraad in Afrikaanse prosa, en is tans ʼn senior redakteur by Penguin Random House. Sy het al met die skryfkuns van onder andere Marita van der Vyfer, Karin Brynard, Bettina Wyngaard en Leon van Nierop gewerk.

Na afloop van die kursus sal deelnemers ʼn deeglike begrip hê van die aard van verhalende skryfwerk en die skryfbeginsels, skeppingselemente en die skryfproses. In dié kursus word deelnemers toegerus met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om ʼn eie verhaal te beplan, skryf en ontleed.

Lees meer

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ‘n e-pos na [email protected]