– Annelien van Basten

Toe sy ingeskryf het vir Skryfnet se Skryf ʼn liefdesverhaal omdat sy lus was vir ʼn kreatiewe skryfkursus, het sy glad nie verwag dat dit tot die publikasie van haar eerste boek sou lei nie.

*Miko van der Graaff, ʼn skakelbeampte wat gereeld met teks werk, is egter nog nie een oomblik spyt oor waarheen hierdie impulsiewe besluit haar gelei het nie en sal dié kursus vir enigiemand aanbeveel.

“Ek skryf al van my kinderdae af. Om stories te skep help my om die wêreld om my te verstaan. Toe ek dus op Facebook van Skryfnet hoor, het ek dadelik belang gestel omdat dit lekker kort kursusse was in Afrikaans en boonop nogal bekostigbaar.

“Op daardie stadium was die volgende kursus Skryf ʼn liefdesverhaal en ek het sommer besluit om in te skryf omdat die inhoud belowend gelyk het.

“Die kursus was baie prakties. Die aanbieder en ontwikkelaar, Madri Victor, het dit interessant gemaak met ʼn verskeidenheid handige wenke, soos boeke wat sy gebruik, asook tegnieke wat help om jou lesers saam met jou in die boek in te trek. Omdat dit nie ʼn beginnerskursus was nie, kon sy tegnieke in diepte bespreek. Ek dink regtig dit wat ek geleer het, het daartoe gelei dat my boek gepubliseer kon word,” vertel sy oor haar besonderse ervaring.

Madeliefie en die Rockstar gaan oor ʼn vrou wat by haar gunsteling-oom gaan kuier, maar haar planne word omver gegooi wanneer sy en die loseerder wat hy ingeneem het mekaar uit die staanspoor verkeerd opvryf en die vonke tussen die twee begin spat.

“Ek het ʼn paar liefdesverhale gelees voor en tydens die kursus, maar die storie is juis eers gedurende die kursus gevorm en uitgedink. Die proses wat Madri gevolg het, het dit nogal maklik gemaak om ʼn storielyn saam te stel.

“Daarna was dit net sit en skryf. Liefdesverhale volg ʼn spesifieke resep, wat ons in die kursus behandel het, en dit gee ʼn mens nogal goeie riglyne oor die lyf van die storie. Daar moet genoeg spanning wees om die storie vir 40 000+ woorde aan die gang te hou, maar ook genoeg sagte oomblikke om lesers se aandag te behou.”

As lusmaker vir diegene wat graag hierdie vakansie met ʼn lekker romantiese boek wil ontspan, deel sy graag die volgende uittreksel:

Nienke stop voor die huis en sug geluksalig. Sy weet presies hoe dit by oom Ben gaan wees. Vir so lank as wat sy kan onthou, is hy die een konstante in haar lewe. Hy sal die deur oopmaak in sy oorgroot, groen baadjie en sy arms om haar gooi in ʼn warm omhelsing. Daar is iets betroubaar omtrent hom, sy huis, ja, omtrent die stil kusdorpie waar hy al jare bly. Oom Ben is erger die afgelope paar weke baie stil en na hy ʼn maand of twee gelede in die hospitaal beland het, is die familie bekommerd oor hom. Veral omdat hy stoksielalleen in sy huis bly. Die huis is jare terug ʼn vaalblou geverf en met die tyd saam het die blou al dowwer geword. Die huis se behoefte na ʼn nuwe laag verf is egter die laaste ding waaraan sy dink wanneer sy die klein trappies na die voordeur opdraf.

Sy lui die deurklokkie.

Die vrolike tingeling herinner haar aan al die vorige kuiertjies wat hulle daar gehou het. Dis Kersfees en Nuwejaar en alles wat goed is in een klein, tingerige geluid opgesluit. 2

Sy lui weer.

Wanneer niemand kom om oop te maak nie, stap sy bloot in. Die huis lyk presies soos sy dit onthou. Sy dwaal in die gang af waar die soet reuk van seep haar neus vul. Sy hoor die badkamerdeur oopgaan en verwag oom Ben om daar uit te stap, maar dis nie ʼn ou man in ʼn groen baadjie wat voor haar verskyn nie. Dis ʼn jong man met net ʼn piepklein handdoek om sy lyf, wat voor haar verskyn. Sy aantreklike gesig is skoongeskeer en hy het ʼn breë, vrolike glimlag. Sy deurmekaar, donker hare is nog nat en verlore waterdruppels pêrel op sy gespierde, kaal bolyf. Nienke kan nie anders as om stomgeslaan na hom te staar nie. Die man staan trots regop in die middel van die gang en sy voel hoe haar wange warm word wanneer sy weer na sy sterk lyf kyk. Vervlaks, hy staan en glimlag omdat sy haarself aan sy lyf verkyk! Wat ʼn verskriklike vernedering!

“Wat doen jy hier?” vra Nienke.

Haar stem bewe seker, maar ten minste klink sy kwaai.

Dit lyk of die man besef sy is nie lus vir speletjies nie. Sy sterk skouers begin hang en die vrolikheid in sy oë vervaag.

“Ek bly hier,” sê hy, asof die antwoord vanselfsprekend is. Sy stem is diep en dromerig.

“Nee, jy hoort nie hier nie,” sê Nienke onseker en stap verby hom verder in die gang af. Sy besef sy moet so gou moontlik van die man af wegkom, want sy kan nie duidelik dink met hom naby haar nie. Wie is die man? En waar is oom Ben?

As jy wil weet wat volgende gebeur, kry gerus jou eksemplaar van Madeliefie en die Rockstar by www.malherbe-uitgewers.co.za.

* Hierdie skrywer skryf onder ’n skuilnaam.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ’n e-pos na [email protected]