“Kom jy?” skree Fen buite haar kamervenster. Die klap teen die ruit kan net ’n harde saaddop van die jakaranda by die agterdeur wees.

“Kry jou in die babakamer.”

“Drie minute!” skree Mieke en storm badkamer toe. Sy oorweeg dit om die wasbak ’n blinde oog te gee. Wie wil nou tande borsel as daar kollekatte in die babakamer wag? Maar sy weet sy het nie regtig ’n keuse nie. Met tandepastaskuim om haar mond, bekyk sy haarself in die spieël.

“Wilder as die wildtuin.” Sy steek vir haarself tong uit en grou in haar rooibruin boskaas na die rekkie wat haar deurmekaargeslaapte vlegsel bymekaar hou. Sy beter vinnig borsel en netjies vleg, want daar is deesdae ’n hele paar kameras op Mtwana. Een daarvan is in die babakamer. Dis alles deel van Mtwana se splinternuwe baadjie. En daardie baadjie sit nie altyd lekker nie.

Dis alles die ou spul op Cassidy’s se skuld, besluit sy terwyl sy die rekkie tussen haar tande vasbyt en verbete vleg. As hulle nie die storieboom en die skool wou platstoot nie, sou niks hiervan gebeur het nie. Dan sou geen mens in Nederland en die res van die wêreld van Mtwana geweet het nie. Dan sou toeriste en agies nie dagin en daguit by die hek opgedaag het nie. Dan sou daar nie webkameras die wêreld vol gehang het nie en sou sy kon rondloop soos sy wil. Maar nee, nou moet sy opskrop as sy by die huis uitloop, want oral in die wêreld sit mense na die videobeelde van Mtwana en kyk.

“Mtwana het die top van die treffersparade gemaak,” het haar pa nou die dag geknor. Maar dit kom teen ’n prys.

“Een simpel Kerskonsert het net mooi alles verander.”

Sy smeer ’n dik streep sonblok oor haar neus, want as sy durf vergeet, sit daar vanaand ’n onwelkome plakker. Sy moet net skeef na die son kyk en voilà: ’n nuwe sproet. Met al die media aandag wat Mtwana sedert die hele storieboomkonsert kry, is daar selfs ’n Nederlandse maatskappy wat haar sonroom wil borg. Haar tannie Sylvie was skoon uit haar vel daaroor. “Kusjes van de zon,”

noem sy Mieke se sproete. Sonsoentjies? Nee. Hulle is lelike sonspikkels wat nooit sal weggaan nie. En die dag dat sy haar sproetgesig laat borg en vir ’n fotograaf paradeer, is die dag dat die sebras hulle strepe vir kolle inruil. Dit het sy haar tannie duidelik laat verstaan. Dat Sylvie en Kanaal Plus se kameras die werf vol hang, is een ding. Maar dis ’n gans ander ding as dit by foto’s van haarself 11 kom. Dié wat haar ma van haar geneem het as klein dogtertjie, swerf steeds die wêreld vol.

Borgskappe is net moeilikheid soek. Kyk nou maar vir haar pa. Sy droom van ’n eie helikopter word toe sommer oornag waar. Maar in ruil daarvoor moet die kamera saamgaan op elke liewe rit. En die borge se eis is dat die chopper elke keer ’n draai voor die kameras moet maak om hul naam te wys. Jip, daai einste hartseer hondjie wat die borg op hul uithangbord geskilder het, pryk van laas maand af ook lewensgroot op die stert van die helikopter. VetzoSupreme is soos ’n bosluis op ’n buffelpens, kla haar pa. Hulle los net nie. Dis ook hulle wat ’n jong veearts gehuur het om haar pa se regterhand te wees. William Duffy. Nóg ’n nuwe gesig op Mtwana.

Wat het Ouma Maggi anderdag gesê? “Oe-a-ê-ê. Amper verlang ek na die dae toe Brad nog amok gemaak het op Cassidy’s. Nou is daar gedurig oë wat mens beloer.” En soos Oupa Bosjan sê, mens kan nie eens meer in vrede in jou neus krap nie. Dis waarom hy sy voete nie bedags by die kliniek sit nie. In sy boomhuis kan hy krap net waar hy wil en aantrek soos hy wil. En daardie vrede, sê hy, kan niemand se miljoene koop nie.

Jip, Mieke weet wat haar Oupa Bosjan dink. Hy dink dat haar pa Mtwana se siel verkoop het. Maar dan onthou sy van die kollekatjies in die babakamer en sy glimlag breed.

“Reg so, wêreld. Skakel oor na Kanaal Plus. Hier kom Mieke Maas!”

Sy plak haar boshoed op haar kop, gooi die agterdeur oop, gee ’n skitterwit glimlag en laat waai. Sy ril van lekkerkry as haar rooi stewels oor die werf se gruisklippies knars. By die voordeur van die kliniek staan haar pa se bakkie met een wiel sommer bo-oor die randsteen geparkeer.

Hondhaastig gewees, kan sy aan die diep spore in die gruis sien. Hy moes hard brieke gegooi het. Maar onder die bakkie is daar ’n beweging: ’n stert wat effens swaai, ’n fyn tjankie. Dis Lucy, die skaaphond wat haar pa soos ’n skuldige gewete agtervolg, getrou op haar pos. Half ratel, half jakkals, spot haar oupa. Maar waar Lucy is, daar sal jy vir Jos Maas ook kry. Onafskeidbaar.

“Lang nag gehad, Lucy? Sien jou netnou!” En dan is dit volspoed na die babakamer toe. Kollekatte!

***

Hierdie uittreksel uit Mieke 2: Spikkelsterre op Mtwana deur Christien Neser is deur NB Uitgewers verskaf. Lees meer oor die boek.

Volg ook Skryfnet se Facebook-blad vir nuus oor die Skryf ’n Kinderboek-kursus wat binnekort begin!

Skryf nou in!

Twee gelukkige lesers kan elk ’n eksemplaar van Mieke 2: Spikkelsterre op Mtwana wen. Al wat jy hoef te doen, is om jou besonderhede op die kompetisievorm hier onder in te vul.

Die sluitingsdatum is 14 April 2022 om 17:00.

Bepalings en voorwaardes:

  • Die kompetisie sluit op 14 April 2022 om 17:00.
  • Wenners sal deur middel van ’n trekking gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal die dag na die sluitingsdatum plaasvind, waarna Skryfnet die wenners per e-pos sal kontak.
  • Sodra die persone gereageer het, sal die wenner op Skryfnet se blad bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant geruil word nie.

Die wenners is:

Venique O’Grady en Jasmine van Staden. Baie geluk.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ’n e-pos na [email protected]