Moet jy soms inligting aan die media kommunikeer, maar dit haal nooit die nuus nie? Wil jy soms met die publiek kommunikeer oor jou produk of diens? Is jy onseker hoe om ’n behoorlike mediaverklaring op die regte tyd saam te stel?

Dan is daar goeie nuus vir jou! Skryfnet, die Afrikaanse skryfskool, bied binnekort ’n oggendwerkswinkel aan waar jy kan leer presies hoe om die perfekte mediaverklaring te skryf.

Dr. Thalyta Swanepoel, ’n dosent in joernalistiek en mediaskakeling aan die Noordwes-Universiteit en ’n voormalige joernalis en kommunikasiepraktisyn, het dié praktiese werksessie spesiaal ontwikkel vir diegene wat kleitrap.

Dit sal regstreeks en aanlyn aangebied word en deelnemers toerus met die nodige kennis en praktiese vaardighede om in-die-kol mediaverklarings te skryf, wat nuusredakteurs se aandag trek en nie in hulle snippermandjies beland nie.

“Skryf ’n Mediaverklaring” is ook nie net ’n teoretiese kursus nie; dr. Swanepoel sal deelnemers aan die hand van hulle eie persvrystellings lei om meer treffende kopie te skryf.

Maroela Media se redakteur, Nico Strydom, sal ook kortliks sy ervaring deel en verduidelik hoe nuusredakteurs besluite neem oor die plasing van mediaverklarings.

As jy ’n kommunikasiepraktisyn of entrepreneur is wat graag vir jou kliënte of besigheid meer blootstelling wil gee, is hierdie werkswinkel ’n móét.

Dié regstreekse sessie is Skryfnet se eerste kursus vir die professionele mark en vind op 5 Mei 2022, van 09:00 tot 13:00, plaas.

Om jou plek te bespreek, klik hier. Sodra die registrasieproses afgehandel is, sal daar ’n e-pos met verdere inligting deurgegee word om by die aanlynsessie in te skakel en ’n bestaande mediaverklaring as voorbeeld in te dien.

Deelnemers wat die werksessie voltooi, ontvang ’n sertifikaat van Akademia. Inskrywings sluit op 2 Mei 2022. Koste beloop R470 per persoon. Afslag is beskikbaar vir groot groepbesprekings.

Vir meer inligting oor die kursus, kontak Annelien van Basten by [email protected] of volg ons op Facebook en Instagram.

KONTAK ONS

Volg ons op sosiale media om op hoogte te bly van al die nuutste kursusse en ander gebeure:

of stuur ’n e-pos na [email protected]